Kom vier fees!
Saterdag 30 November 2019, Snowflake, Potchefstroom

Kom vier saam PUK 150 jaar. 150 jaar van graadkry met lekkerkry klaarkry. Kyk net hoe baie Pukke is ons hier! Koshuisaksies en slepe, “lovers’ lane”, JOOL, die Draak, Regsgebou, die bib se gras, die Alabama, sêr, lewenslange vriendskappe en soveel meer.

’n Aantal oud-Pukke het besluit om hierdie geleentheid te vier, dus is daar uit oud-Pukke ’n onafhanklike feeskomitee gestig om te verseker dat Puk se 150 jarige bestaan gevier word soos net Pukke dit kan vier.

Ou Pukke, Jonge Pukke, NWU-Pukke, kortom alle oud-Pukke word hartelik uitgenooi! Die sleutelwoord is kuier, kuier en nogmaals kuier. Stories-opvang van die eerste water en gesellig saam die verlede opdiep om lekker te kan lag oor ons mensword alhier gaan die bo-toon voer. Die oggendprogram maak ruimte vir dié wat graag ‘n aansit-ete saam met hulle almamaters wil geniet, terwyl die middag/aandprogram weer voorsiening maak vir die wat orals en met almal wil kuier en hulle eie kos by die groot verskeidenheid kosstalletjies wat daar sal wees, wil koop soos dit hulle pas. ‘n Kontantkroeg sal ook beskikbaar wees. Heerlike sing-songs en die Agbare President van Tarentaal vorm deel van die oggend- en middag/aandprogram en oud-Pukkunstenaars soos o.a. Johan van Rensburg (van NootvirNoot-faam), Danie Niehaus, Anna Davel en “die Bourbons Broers” – met Ghapi, Andries, Marius en Glenn sal ook in aksie wees.

EK WIL KOM FEES!!! WAT MOET EK DOEN?